As ons doodstil is kan ons God se hart hoor klop. Kontemplatiewe spiritualiteit help ons daarmee. Dit gaan nie oor geestelike prestasies nie, maar om lank genoeg stil te wees om die ewige waarheid te ervaar: “Want in Hom leef ons, beweeg ons en is ons” (Handelinge 17:28).
Stel jou voor dat jy God se nabyheid in alledaagse oomblikke beleef, soos tydens ‘n maaltyd. Of om ‘n Bybelfrase diep te laat insink, soos water in droë grond.
Dit help jou om God se stem te herken agter die geraas van angs of skuldgevoelens, om te rus in “genoeg” omdat Christus se teenwoordigheid jou anker is, en om vanuit liefde eerder as vrees te reageer.
Kontemplatiewe gebed, of meditasie, is ‘n sleutelpraktyk waarin dit nie gaan om die leegmaak van jou gedagtes nie, maar om in God se bestendigheid te rus. As ‘n aktiewe, bewuste en betrokke proses help dit ons om die waarhede, wat ons in liefde of lyding teëkom, in ons lewens te laat wortelskiet, selfs wanneer woorde opdroog. Dit is ‘n lewenslange praktyk wat jou, selfs te midde van mislukkings, lei na ‘n dieper verhouding en “tuiskoms”.
